William Huggins

Sir William Huggins (7 Februarie 1824 – 12 Mei 1910) was ’n Britse sterrekundige wat veral bekend was vir sy baanbrekerswerk in astronomiese spektroskopie. Hy is in Middlesex gebore en is later getroud met Margaret Lindsay, wat sy belangstelling in die sterrekunde gedeel en hom gehelp het in sy navorsing. Huggins het ’n privaat sterrewag in Londen gebou van waar die egpaar veral spektraallyne van verskeie hemelliggame bestudeer het. Op 29 Augustus 1864 was hy die eerste persoon wat die spektrum van ’n planetêre newel geneem het terwyl hy NGC 6543 bestudeer het. Hy was ook die eerste persoon wat tussen newels en sterrestelsels onderskei het deur te wys dat sommige, soos die Orion-newel, suiwer emissiespektra tiperend van gas het terwyl ander, soos die Andromeda-sterrestelsel, die tipiese spektra van sterre het. Deur die ster Sirius, wat 'n rooiverskuiwing ondergaan, in 1868 waar te neem, kon Huggins die hipotese maak dat die ster se radiale snelheid daarmee bereken kan word. Huggins het die Orde van Verdienstelikheid, die Orde van die Bad en verskeie ander eerbewyse en pryse verower. Hy is in 1910 oorlede.


Developed by StudentB